Oase in die Magaliesberge

Minder as ’n uur van beide Pretoria en Johannesburg, net ’n klipgooi van die wêreldbekende Sun City, lê ATKV-Buffelspoort.

 

Met verskillende soorte selfsorgakkommodasie, ontspanningsgeriewe en aktiwiteite, ’n restaurant, kitskosfasiliteite en goed toegeruste winkel is ATKV-Buffelspoort die ideale basis vanwaar jy die talle toeriste-aantreklikhede in die omgewing kan verken.

 

Ons kampeergeriewe is veral gewild. Benewens ons 4-bedtenthuise het ons ’n magdom kampeerstaanplekke onder skaduryke bome of gepavleide staanplekke met skadunette, kragpunte en ‘n braai-area. Daar is uitstekende opwas- en ablusiefasiliteite.

 

Perfek vir aksie en avontuur, of net luilekker rus en vrede – die volmaakte gesinsvakansie! Boonop bied die omgewing se rustigheid die regte atmosfeer vir positiewe en verbeeldingryke besigheidsbeplanning.

Akkommodasie

Buffelspoort beskik oor ’n verskeidenheid selfsorgakkommodasie vir elke smaak. Omdat jy boonop per eenheid betaal en nie per persoon nie, bespaar jy baie.

Magalies-Villas

Die nuutste toevoeging tot ATKV-Buffelspoort se huisvesting is die luukse en moderne Magalies-villas wat elk uit 3 slaapkamers vir ses persone, ’n oopplankombuis en woonvertrek, 2 badkamers en ‘n patio met ‘n ingeboude braai bestaan. Dié eenhede het ook lugverkoeling

Tenthuise

Die tenthuise het 4 beddens en ’n badkamer, met of sonder kombuis. ‘n Gemeenskaplike kombuis is beskikbaar vir die eenhede wat nie hul eie kombuis het nie.

Woonstelle

Die woonstelle het 4, 6 en 8 beddens met ‘n badkamer(s), kombuis en TV.

Woonwa- en kampterrein

Staanplekke op grasperke onder skaduryke bome of geplaveide staanplekke met skadunet, kragpunt en braaigeriewe. Uitmuntende opwas- en ablusiefasiliteite.

Aktiwiteite & Fasiliteite

Aktiwiteite

  • Koue en warm binnenshuise en buiteswembaddens

  • Borrelbaddens

  • Waterwurm en wipmatte

  • Snoeker en potspel

  • Gholf en avontuur-minigholf

  • Vlugbal, muurbal, tennis

Fasiliteite

  • ’n Gelisensieerde restaurant met ’n afdeling vir wegneemetes, ’n sportkroeg, skoonheidsalon en goed toegeruste winkel en drankwinkel. Daar is ook ’n OTM op die perseel.

Dagbesoekers

Hoewel ATKV-lede voorkeurbespreking by die oorde geniet, volg die ATKV lank reeds die beleid dat die oorde oop is vir Jan Alleman wat huisvesting betref terwyl net ATKV-lede die oorde as dagbesoekers kan besoek.

Met die koms van die nuwe bedeling het die ATKV, op grond van besluite van verskeie kongresse, homself onomwonde geskaar by dié nuwe bedeling.

Vakansiehou is een van die aktiwiteite wat ten nouste verband hou met die ontspanningskomponent van kultuur. Juis daarom is dit die ATKV se oogmerk om die vakansie-ervaring van die Afrikaanse kultuurgemeenskap aangenaam te maak.

Die vakansiepatroon is gerig op die gesin en fokus op aspekte soos gesinsvermaak, veiligheid, ‘n rustige vakansieomgewing en vakansiegangers wat mekaar se behoeftes respekteer en aanvul.

Om hierdie aangename vakansie-ervaring te verseker, is daar sekere reëls by die oorde wat insluit:

 

  • ‘n Beperkte aantal dagbesoekers.
  • Geen drank by die swembaddens.
  • ‘n Beleid van geen dronkenskap.
  • Erkenning van die menswaardigheid van elkeen wat die oord as betalende gas besoek. 
  • Geen busse met besoekers wat nie vooraf reëlings tref nie.

929total visits,1visits today

WhatsApp chat Gesels Met Ons Op WhatsApp